Ons betrokkenheid by hierdie instansies is behoefte-gedrewe. Hou ons weeklikse Gemeentebrief dop, om te sien hoe jy betrokke kan raak.

Bramley

Bramley-Kinderhuis, ook bekend as Bramley Children’s Home, is ’n residensiële sorginstansie in Groenkloof, Pretoria, wat sorg vir getraumatiseerde, mishandelde en verwaarloosde kinders asook weeskinders wat deur die hof uit onstabiele tuisomstandighede verwyder is. Dit funksioneer onder die beheer van Child Welfare Tshwane (voorheen Pretoria Kinder- en Gesinsorgvereniging), ’n geregistreerde niewinsgewende kinderbeskermingsorganisasie wat daarop gemik is om kinders in die groter Tshwane-gebied te beskerm en te ondersteun. Ons gemeente het oor jare ’n mooi verhouding met die kinderhuis opgebou en ondersteun graag waar nodig.

Gaan lees gerus meer HIER oor die organisasie.

Lees gerus HIER oor die die gemeente se betrokkenheid by Bramley.

Daybreak

Daybreak House bied sorg en liefde aan verlate, verwaarloosde en kwesbare babas wat ’n liefdevolle gesin nodig het. Daybreak House is nie bloot ’n instelling nie, maar ’n veilige en liefdevolle tuiste. Die span werk nou saam met geregistreerde maatskaplike werkers, en is daartoe verbind om vir ons babas liefdevolle, permanente huise en gesinne te vind. Waterkloof help met vrywilligers wat bereid is om gereeld ‘n uur of twee saam met die kindertjies deur te bring. Die huis is in die gemeente se onmiddelike omgewing geleë.

Gaan lees gerus meer HIER oor die organisasie.

Lees gerus HIER oor die die gemeente se betrokkenheid by Daybreak.

Dynamic Women for Children

Dynamic Women for Children is ’n organisasie sonder winsbejag, geleë in die Kameelfontein-area. Hulle versorg daagliks 50 minderbevoorregte kinders en voorsien hulle van al hulle basiese behoeftes (fisies, emosioneel, sosiaal, geestelik en opvoedkundig). By Dynamic Women for Children is die fokus om gesonde kinders groot te maak. Hulle struktuur is daarop gerig om veilige vangnette te wees vir kinders, waar grootmense, die lewe en hul omstandighede hulle faal. Waterkloof gemeente is spesifiek betrokke by Dynamic Women for Children se klerebank. Dit voorsien die gepaste drag vir spesiale geleenthede aan hoërskoolleerders wat die groot uitgawe nie kan bekostig nie! Die klerebank benodig altyd spesiale rokke en pakke wat die jong mense dan kan kom leen vir hulle spesiale geleentheid.

Gaan lees gerus meer HIER oor die organisasie.

Oekraïne

Stéfan en Hensie van der Merwe bedien reeds van 2003 in Odessa, in Oekraïne. Ons gemeente ondersteun die Van der Merwes in hulle bediening.

Lees gerus HIER insetsels in die gemeentebrief insetsels rakende hierdie inisiatief.

Peas in a Pod

Ons gemeente is alreeds vir ’n geruime tyd betrokke by Urbanvest Foundation – Peas in a Pod. Danksy ons gemeentelede se bydrae kan ons elke jaar ’n ruim bedrag aan die organisasie skenk. Die organisasie is in 2010 gestig en in die middestad van Pretoria geleë. Peas in a Pod is ’n plek van veiligheid en ’n kinder- en jeugsorgsentrum wat tans na 15 dogters tussen die ouderdom van 6 en 18 omsien. Een van die vele wyses waarop ons gemeente tans betrokke is, is om vir die jongmense op hulle verjaarsdae lekkernye soos koek, kolwyntjies of lekkergoed saam te stuur skool toe. Almal verdien ‘n spesiale verjaarsdag!

Lees gerus HIER oor die die gemeente se betrokkenheid by “Peas in Pod”

Gaan lees gerus meer HIER oor die organisasie.

PEN

“PEN se missie is om die kettings van armoede te breek deur doel, mag en waardigheid te vind te midde van armoede en weerloosheid. Ons het ‘n ekosisteem van sorg wat fokus op fisieke, opvoedkundige en beroepswelstand, asook die emosionele en geestelike welstand van mense in nood. Waterkloof as gemeente is elke jaar betrokke by die WINTERHOOP-projek. Daar word ’n trollie by die ingang van die kerk geparkeer waarin die volgende items geplaas kan word:

  • Goeie warm klere

  • Onderklere en kouse

  • Handskoene

  • Komberse

  • Skoene

  • Musse (“beanies”)

  • Serpe

  • Niebederfbare voedselitems
    Jy kan ook ’n bed in ’n skuiling of ’n warm maaltyd borg.

Gaan lees gerus meer HIER oor die organisasie.

Re Gae Kleuterskool

Ons gemeente is reeds vir ’n hele aantal jare betrokke by die Re Gae-kleuterskool in Pretoria-Wes, spesifiek by hulle vroeë-kinderontwikkelingsprogramme. Daar is tans meer as 100 kinders by die kleuterskool ingeskryf, wat groot druk op hulle voedselbegroting plaas.

Ons gemeente help daarom om Re Gae se koskaste aan te vul. Saam met Thabita Tladi, die skoolhoof, en dieetkundiges probeer ons verseker dat die kinders daagliks voedsame maaltye ontvang. Tans word aanvullende kosvoorrade twee keer per maand by Re Gae afgelewer.

Ons gebruik hierdie geleenthede ook om verhoudinge met die personeel te bou, hulle te bederf en emosioneel te ondersteun.

Lees gerus HIER oor die gemeente se betrokkenheid by Re Gae.

353 Dey St, Nieuw Muckleneuk, Pretoria, 0181, South Africa

Kontak Ons

(012) 460-3913

083 442 9557

351 Deystraat, Nieuw Muckleneuk

Ds. Bernice Serfontein

Ds. Dewald Roux

072 755 7817