Waterkloofkerk is ‘n geloofsgemeenskap binne die NG Kerkfamilie in die ou Ooste van Pretoria. ‘n Groot gedeelte van Nieuw Muckleneuk, die buurte Waterkloofhoogte en Waterkloofrif is ook binne die gemeente se oorspronklike grense.
Ons is ‘n gemeente waar almal welkom is en plaas ’n hoë premie op die omarming van diversiteit, gesonde menseverhoudinge, persoonlike kontak met lidmate en die sosiale instellings van ons gemeente.
Waterkloofkerk is in hart en siel ‘n gereformeerde gemeente en daarom staan ons geloofsdenke nie ontdekkinge en ontwikkelinge van die Bybelwetenskappe en Natuurwetenskappe teen nie, maar verwelkom dit. God is immers groter as ons huidige verstaanspatrone. Ons geloofsuitlewing is meer volgens die Gereformeerd-mistieke patroon as byvoorbeeld volgens die Charismaties-emosionele patroon. Daarom sing ons meestal uit die skatkis van klassieke kerkliedere met orrel en ander instrumente. Liturgies verbind ons aan die ritme van die kerkkalender sover moontlik.
Ons nooi jou uit om deel te word van ons groeiende gemeente en sien uit om jou hier te ontmoet!
(Sien meer hieroor in Ons Kernwaardes)

Op grond van die Bybel en die Belydenisskrifte, is die volgende geloofsuitgangspunte en waardes tans vir ons gemeente van groot betekenis en ‘n uitdrukking van ons gemeente-identiteit:
Ons glo God is soos Jesus Christus Hom aan ons bekend gemaak het. Hierdie geloof in God wat vol genade en liefde is, maak ons vry van ‘n wettiese godsdienstigheid en ‘n krampagtige lewensuitkyk. Ons geloof in God vul ons lewe met dankbaarheid en vreugde.
Ons glo dat God deur sy Gees by ons teenwoordig is en gewone mense in sy diens betrek. Hierdie geloof in God se werksaamheid roep ons tot verantwoordelikheid om onsself diensbaar te stel. Dit vra ons beste kwaliteit in musiek, in liturgie, in die tyd wat ons vir geloofsake gee en in ons nadenke oor geloof.
Ons glo dat God mense inspireer om sy getuies te wees. God se algemene genade aan alle mense bring mee dat ons sensitief sal luister na alle menslike uitinge waaronder kunswerke. Die getuienis wat in die Bybel versamel is, bevat vir ons die grondwaarhede oor ‘n lewe voor God en met ons naaste. Daarom respekteer ons die Bybel se historiese aard, die eiesoortige waarheidsbegrip, die verskillende literatuurtipes asook die lewensomkerende appèl wat dit op ons maak.
Ons erken dat ‘n geloofsgemeenskap uit gewone mense bestaan en daarom aan die spanninge van tussenmenslike verhoudinge onderworpe is. Daarom moet hierdie gemeenskap daadwerklik in stand gehou en uitgebou word terwyl ons ook deurentyd sorg dat ons bediening- en bestuurstruktuur duidelik is, dat mag versprei is, besluitneming deursigtig is, gespreksvoering oop bly en konflikterende belange vroegtydig geïdentifiseer en met wysheid bestuur word.
Ons aanvaar dat God aan ons geloofsgemeenskap die deugde van geloof, hoop en liefde skenk. Omdat ons begenadigde sowel as sondige mense is, moet ons voortdurend stry teen God-veronterende en onegte uitinge van geloof, hoop en liefde.
Ons aanvaar dat elke mens uniek is. Daarom skep ons optimaal ruimte dat ‘n verskeidenheid van ouderdomme, persoonlikheidstipes en spiritualiteite in ons geloofsgemeenskap kan tuis kom sonder dat die ander elemente van hierdie Gemeentebelydenis weerspreek word.
Ons stem saam dat ons roeping ook inhou om te onderskei wat in ons tyd van deurslaggewende belang is. God se gawe van eenheid, geregtigheid en versoening is tegelyk ook die opgawe van God waarvoor ons opofferinge as geloofsgemeenskap in hierdie tyd in ons land moet maak.
Ons erken dat ons voorregte nie ‘n rede is tot ‘n skuldgevoel of houding van meerwaardigheid nie. In die Gees van Christus se liefde is ons diensbaar om oor gemeentegrense ander te bemagtig en ‘n volhoubare verskil in noodsituasies te maak. Ons ly saam met die wat ly. Ons bly ook ontvanklik vir ander se gawes en bereidwillig om te groei en te ontwikkel
Ons aanvaar die boodskap van die Bybel. Ons het as mense ‘n bewarende verantwoordelikheid teenoor God se skepping en ons verhoudinge met ander mense is net so belangrik as ons verhouding met God.
Ons erken dat die wetenskap en die geloofsbronne - mits dié bronne volgens eie aard verstaan word - mekaar nie weerspreek nie. Vanuit ons verwondering aan God beoefen ons die roeping om kultuur soos die wetenskap te bou.
Ons is ‘n gemeente waar almal welkom is en plaas ’n hoë premie op die omarming van diversiteit, gesonde menseverhoudinge, persoonlike kontak met lidmate en die sosiale instellings van ons gemeente.
09:00: Oggenddiens
18:00: Aanddiens (slegs gedurende skoolkwartale)
By die oggenddiens plaas ons klem op betekenisvolle simboliek, liturgie, musiek, prediking en gasvryheid. Die oggenddiensgemeenskap is warm en verwelkomend. Enige persoon kan hier 'n tuiste vind en ons saamkuier na die diens op die gemeentestoep, is 'n hoogtepunt.
• Jongmense volledig deel van die kerk is, en die ruimtes waar ons aanbid moet dit weerspieël
• Jongmense se geloof word primêr by die huis gevorm en daarom is ouers en voogde ons vennote tydens eredienste
• Oud en jonk kan leer by mekaar oor ’n lewe saam met God
By Waterkloofkerk is dit vir ons belangrik om ruimtes te skep waar families saam oor God kan dink en saam kan aanbid. As dit by die vorming van ons geloof kom, is ons daarvan oortuig dat:
Kinders (Voorskool tot en met gr 6) neem deel aan die eerste deel van die erediens in die kerk, en beweeg op n punt in die erediens na die saal vir oudersdomsgepaste geloofsvorming.
Aanddiens in die kerkgebou om 18h00 met jeug-en verbintenisgroepe. Die Aanddiens is ‘n informele kontemporêre byeenkoms wat ruimte bied vir alle ouderdomme om God se teenwoordigheid te ervaar en saam te dink en gesels oor die lewe. Daar is geleentheid vir lof en aanbidding, eerlike gesprekke en lekker saamkuier. Dit is ook die ruimte waarbinne ons studente- en hoërskoolgroepe kan bymekaarkom.

Bereik die woorddienste op YouTube soos volg:
Kliek HIER om toegang te kry na die NG Kerk Waterkloof kanaal. U kan selfs die NG Kerk Waterkloof Kanaal op YouTube volg.
Ons Gemeentebrief is ons weeklikse “spreekbuis” na ons gemeentevriende. Hier deel ons relevante inligting met betrekking tot Sondag se eredienste, gemeente-aktiwiteite vir die volgende week, asook inligting oor gemeente-geleenthede in die nabye toekoms en terugvoer oor gebeurtenisse / geleenthede wat gedurende die afgelope week plaasgevind het. Ons deel ook die wel en wee van gemeentevriende en vertel meer oor wat in ons groter gemeenskap aan die gang is. Klik hierdie skakel om die interessante Gemeentebrief van voor tot agter te lees.

Klik hier om die almanak af te laai.
De zaaier, c. 1888
Vincent van Gogh
Vir Van Gogh was die son in sy werk gewoonlik ’n metafoor vir die goedheid van God. In hierdie geval dui die feit dat die son besig is om onder te gaan, op die naderende duisternis en ’n daarmee gepaardgaande gevoel van Godverlatenheid. Dit word versterk deur die koringland agter die vars geploegde land wat reg is om geoes te word: Die seisoen van lewe en groei is byna verby en al wat oorbly, is die naderende dood. Teenoor hierdie werklikheid van ’n naderende einde staan die figuur van die saaier. Met sy rug op die ondergaande son gaan hy voort met sy werk om die saad te saai. Daarmee gee hy uitdrukking aan die oortuiging dat die naderende einde van die seisoen nie die einde van die hoop op ’n nuwe toekoms beteken nie: Die nuwe saad sal groei en ’n nuwe oes oplewer, en na die nag sal die son weer opkom en sy vriendelike lig oor alles laat skyn. Sonder om al die elemente in die Bybelverhaal uit te beeld, sluit dié kunswerk by die basiese strekking van die gelykenis van die Saaier aan, naamlik dat dit ten spyte van alles wat op die teendeel dui, tog die moeite werd is om voort te gaan om hoopvolle dinge met die oog op die toekoms te doen.